Toe ek en K eers hier aangekom het, was daar vir drie dae ‘n solide grys plafon bokant Auckland, geen tekstuur nie, geen sonsondergang nie, net grys. Gelukkig was dit net tydelik en intussen het ek dramatiese wolkformasies en sonsondergange hier beleef.
Ek besef nou dat Auckland se weer baie goed is in vergelyking met bv. Wellington. Die wind kan waai, maar darem nie meer as so 50 km/h nie. Dit reën ook heelwat, maar nog nie soveel dat dit my gepla het nie. Dis ook nie vreeslik koud nie en dit kan nogal bedompig wees.
Die hele stad is vol heuwels, en danksy die onderwyser op die veerboot weet ek dat elkeen van die heuwels ‘n vulkaan is. In praktyk beteken dit krulletjies en draaitjies in die strate en heelwat op-en-af as jy fietsry. Navigasie kan moeilik wees, en ek het myself nou oorgegee aan die genade van Petunia, nig N se GPS. Sonder haar sou ek ‘n hele paar afsprake gemis het en ‘n klomp petrol gemors het.
Aan die oostekant van die stad (waar ons bly), is die see baie vlak en die gradient van die seevloer klein. Die waterlyn kan met hoog- en laagwater maklik met honderde meter verskil. As jy gelukkig is, lê die ebgety sand bloot waarop jy lekker kan loop. Anders is dit modder of rotse of grieselrige seegras of ‘n kombinasie van al drie. Golwe is beperk tot die soort wat jy in ‘n meer sal kry.

Aan die ooskus van Auckland in die omgewing van Andersons-strand.
Aan die westekant is dit meer soos in SA met groot golwe en sterk strome. Was ‘n rukkie terug by Piha-strand, waar die bruin sand iets in het wat dit soos diamante laat skitter. Het die lekkerste daar geswem sedert Stlbaai in Januarie. Het ook daar rond gaan stap saam met ‘n groep gay vrouens en geleer van die Nikau-palm. Dit is die palm wat die verste suid voorkom en dit groei omtrent 1m in 15 jaar. Hierdie stapgroep loop darem teen die pas van die stadigste mense, en dit was gelukkig nie ek nie.
Naby Piha is Karekare-strand, wat die agtergrond was vir die toneel in The Piano waar die mense se goedjies van die skip af op die strand gelaat word. Die gestrompel deur die bos op modderige paadjies is ook daar naby verfilm. Tydens ons stap was daar dele wat nogal modderig was, en ek weet nou hoekom almal hulle stapskoene in plastieksakke bring.

White-strand vanaf die bult tussen White-strand en Piha-strand
Die middestad is nogal ‘n antiklimaks en bevat meestal straatkaffees en kantoorgeboue. Die beroemde Sky Tower kos te veel vir my om nou in te gaan, miskien as ek eendag dollars verdien sal ek dit oorweeg. Die nasionale kunsgallery is wel ‘n baie mooi gebou, kon nou nie regtig dieselfde sê van die kuns aan die binnekant nie.
Auckland Domain is ‘n groot park naby die middestad en lekker om in te stap behalwe vir die verkeergeraas. Ek het baie van die kweekhuise daar gehou, waar hulle meestal eksotiese plante kweek.

Die Wintertuin in Auckland Domain met een van die glashuise ook sigbaar
Auckland is eintlik amper op twee aparte eilande met net ‘n klein stukkie grond wat die noorde met die suide verbind. Op die noordekant is die ‘Boererepubliek van Bruin se Baai’ waar baie SA’ners bly. Ek moet sê, dele daarvan lyk nogal soos Pta-Oos. Maar dis blykbaar die gevolg van ‘n skandaal waarin die stadsraad die grond teen ‘n appel en ‘n ei aan ‘n Sri Lankaanse ontwikkelaar verkoop het en toegelaat het dat hy met die grond maak wat hy wil. Waar daar mense is…