Volle sirkel

Nou ja, die eksperiment is verby. Die hipotese getoets en dit het gefaal. Of eerder, ek het gefaal. Lyk vir my ek is net eenvoudig nie emigrasiemateriaal nie. Ek weet ander mense het sterker tande om mee vas te byt, maar myne het uitgeval.

Streng gesproke is daar nog ‘n maand oor voor my oorspronklike spertyd, maar hierdie uitstappie raak nou te duur, op verskeie vlakke.

My huidige ‘werk’ betaal nie eers genoeg om ‘n plek te huur en ordentlik te eet nie. En ek leer niks, so ek gaan nie verder my tyd hier mors nie.

Land 31 Mei in Jhb. Wish me luck as you wave me hello…

Dag een by die werk

Het toe daarin geslaag om ‘n GIS-werk te kry by Watercare Services, die mense wat Auckland se water suiwer en versprei. Dis net ‘n 3-maande kontrak. Dit het hulle amper 3 weke gevat om die papierwerk gedoen te kry.

Vandag was my eerste dag en dit was heel gewoon.  Die GIS-afdeling het (saam met my) 9 mense en ons sit almal mooi soet in ons hokkies. Ses uit die nege is Suid-Afrikaners. Gelukkig is daar geen musiek nie, iets wat ek gevrees het want dis oral hier in werksplekke.

Hier vat die mense nog teebreuke in die oggend en die middag, wat gaaf is. Dit laat die dag minder lank voel.

Die werk self is donkiewerk, met die gepaardgaande vergoeding – strooi :-) . Maar nou ja, dit is die lot van bedelaars.

Die plek is so 8 km van waar ek bly, so ek sal binnekort begin fietsry soontoe. Ten spyte van wat sommige mense sê, kan Auckland se verkeer nogal erg wees.

Die minder aangename

Tot dusver het ek gekies om nie te negatief te wees in my blogs nie, maar ek het ‘n versoek gekry om iets te sê oor die deel van NS wat nie so prentjiemooi of aangenaam is nie, so hier is dit.

Smaak

Dis seker maar ‘n kulturele ding, maar ek het nog min mensgemaakte dinge hier gesien wat vir my mooi is. Ontwerpe op klere, materiaal, beddegoed, ens. is oor die algemeen vir my nogal lelik. Ek sien selde iemand wat mooi aangetrek is of ‘n huis wat vir my goed lyk. Kuns in gewone gallerye lyk nie veel anders as in SA nie, so ek weet nie hoekom die res so anders is nie. Toe ek dit vir ‘n eks-SA’ner noem wat al langer as 10 jaar hier is, het sy saamgestem. Dis nou een ding wat ek nie verwag het om te mis nie en om dit so gou te mis nie. Miskien is my sin vir estetika beter ontwikkel as wat ek vermoed het.

Meeste van die kos hier bevat te min sout.  Een persoon se teorie is dat daar eintlik te veel suiker in is, en die suiker neutraliseer die sout. Dis dalk moontlik, want die pizzabasis wat ek gekoop het, het soos Mariebeskuitjies geproe. Ek het nou uiteindelik Switserse groenteaftreksel (‘stock’) gekry wat ok smaak en wat bekostigbaar is, maar meeste van die verwerkte kos wat ek koop, is vir my nogal smaakloos.

Rommel

Alhoewel dit natuurlik op ‘n baie kleiner skaal is as in SA, kry mens hier wel rommel, en hoe nader jy aan die middestad kom, hoe erger word dit. Maar ek het dit ook al in klein dorpies gesien. Het ook al mense goed by hulle karre se vensters sien uitgooi. Op die strande is heelwat glasstukke, wat mens nie noodwendig in die vlak water kan sien  wanneer jy daar loop nie.

Nannystaat?

Ek het hiernatoe  gekom met die idee dat almal hier die reëls nakom, maar dis natuurlik onrealisties. Hier is heelwat ‘boy racers’ wat hulle bande op die pad laat skree en die hardtse uitlaatpype moontlik op hulle karre sit. Het ook al motorfietsspore op ‘n wandelpad in inheemse bos gesien. Mense mag hier nog met hulle karre op die strand ry, en hulle maak behoorlik gebruik daarvan om te keer dat hulle die kajak ‘n ekstra 50m moet dra.

Soos enige welsynstaat, het NS probleme met mense wat die stelsel misbruik. Dit kry nogal dekking in die koerante met stories van een man wat drie kinders by drie verskillende vrouens het en die staat wat nou daardie drie huishuoudings onderhou. Dit beteken behuising en maandelikse toelaes.

Laastens, ‘n eienaardige mediese reël. By ‘n apteek kan ek nie generiese ibuprofen sonder ‘n voorskrif koop nie, maar ek kan die handelsnaam (Neurofen) sonder ‘n voorskrif koop. Generiese weegawes is egter sonder voorskrif in die supermark te koop. Dit aldus die Sjinese vrou in die apteek hier naby, wat van Pretoria af kom en Afrikaans kan praat!

 

Rolbal in NS 3

Ek dink ek begin nou aanpas by die bane hier. Het Vrydagmiddag vir die eerste keer saam met ‘n skip gespeel wat regtig goed speel, en my spel het toe sommer ook verbeter. Hy’s egter nogal ‘n cranky outjie wat vir jou vertel hoe jou kort balle in sy pad is. Hy prys darem ook die goeie balle.

Hier onder is foto’s van die teksture rondom ‘n tipiese rolbalbaan in NS. Links is die oppervlakte van ‘n grasbaan. Daar is nie eers duidelike grashalms nie, so g’n wonder die bane is so vinnig nie. In die middel is ‘n kunsmatige baan se tekstuur. Hierdie ‘gras’ kom dikwels ook op die rante van bane voor. Dit het meer grashalms as die natuurlike bane, maar ek het nog nooit op een gespeel nie en weet nie hoe vinnig hulle is nie. Hulle speel gewoonlik in die winter op die kunsmatige bane, want al die reën verhoed dan spel op die natuurlike bane. Aan die regterkant is die klippe wat hulle eerder as sand in die slote gebruik – krap die balle lekker. Die baan se kante is afgewerk met vertikale houtpanele, so die bank is oor die algemeen meer stabiel as by die bane in SA.

Grasbaan, kunsmatige baan, klippe in die sloot.

Was Saterdagmiddag by Mount Eden-rolbalklub, waar die uitdunne vir Auckland se kampioen van kampioene viere gehou is vir die vrouens. Die standaard was so-so. Weet darem nou dat ek nie die enigste lead is wat die heeltyd die wit bal in die sloot in gooi nie! Meer interessant was die gejol op die baan langsaan waar nuwe mense gekom het om die spel te probeer. Dit was ‘n spul vrouens wat gelyk het of hulle na ‘n tuinparty gaan en elkeen het eetgoed gebring. Tente was opgeslaan en die drank het vrylik gevloei. Net een man van die rolbalklub was daar om hulle te help. Ek sou graag wil weet wat die sukseskoers van so ‘n gebuertenis is; dit het vir my gelyk of almal dit net as ‘n grap sien. Ek is ook nie seker hoe maklik dit is om op so vinnige baan te leer speel nie en ek is eintlik bly ek het op stadiger bane geleer.

Ek wonder partykeer of die SA styl wel by hierdie soort bane pas. Dit lyk vir my of die meeste mense hier hulle arms gebruik om die balle se gewig te reguleer, nie hulle lywe soos ek geleer is nie.  Ek vind ook dat die klein verstellingkies wat mens moet maak om die bal se gewig te beheer, goeie spierbeheer verg.

Mount Eden is een van die oudste klubs in Auckland en het nogal ‘n mooi klubhuis (vir NS-standaarde). Pakuranga (waar ek speel) is in die 1980′s gebou, en mens kan dit duidelik aan die klubhuis sien.

Pakuranga (links) en Mount Eden (regs) se klubhuise

Auckland

Toe ek en K eers hier aangekom het, was daar vir drie dae ‘n solide grys plafon bokant Auckland, geen tekstuur nie, geen sonsondergang nie, net grys. Gelukkig was dit net tydelik en intussen het ek dramatiese wolkformasies en sonsondergange hier beleef.

Ek besef nou dat Auckland se weer baie goed is in vergelyking met bv. Wellington. Die wind kan waai, maar darem nie meer as so 50 km/h nie. Dit reën ook heelwat, maar nog nie soveel dat dit my gepla het nie. Dis ook nie vreeslik koud nie en dit kan nogal bedompig wees.

Die hele stad is vol heuwels, en danksy die onderwyser op die veerboot weet ek dat elkeen van die heuwels ‘n vulkaan is. In praktyk beteken dit krulletjies en draaitjies in die strate en heelwat op-en-af as jy fietsry. Navigasie kan moeilik wees, en ek het myself nou oorgegee aan die genade van Petunia, nig N se GPS. Sonder haar sou ek ‘n hele paar afsprake gemis het en ‘n klomp petrol gemors het.

Aan die oostekant van die stad (waar ons bly), is die see baie vlak en die gradient van die seevloer klein. Die waterlyn kan met hoog- en laagwater maklik met honderde meter verskil. As jy gelukkig is, lê die ebgety sand bloot waarop jy lekker kan loop. Anders is dit modder of rotse of grieselrige seegras of ‘n kombinasie van al drie. Golwe is beperk tot die soort wat jy in ‘n meer sal kry.

Aan die ooskus van Auckland in die omgewing van Andersons-strand.

Aan die westekant is dit meer soos in SA met groot golwe en sterk strome. Was ‘n rukkie terug by Piha-strand, waar die bruin sand iets in het wat dit soos diamante laat skitter. Het die lekkerste daar geswem sedert Stlbaai in Januarie. Het ook daar rond gaan stap saam met ‘n groep gay vrouens en geleer van die Nikau-palm. Dit is die palm wat die verste suid voorkom en dit groei omtrent 1m in 15 jaar. Hierdie stapgroep loop darem teen die pas van die stadigste mense, en dit was gelukkig nie ek nie.

Naby Piha is Karekare-strand, wat die agtergrond was vir die toneel in The Piano waar die mense se goedjies van die skip af op die strand gelaat word. Die gestrompel deur die bos op modderige paadjies is ook daar naby verfilm. Tydens ons stap was daar dele wat nogal modderig was, en ek weet nou hoekom almal hulle stapskoene in plastieksakke bring.

White-strand vanaf die bult tussen White-strand en Piha-strand

Die middestad is nogal ‘n antiklimaks en bevat meestal straatkaffees en kantoorgeboue. Die beroemde Sky Tower kos te veel vir my om nou in te gaan, miskien as ek eendag dollars verdien sal ek dit oorweeg. Die nasionale kunsgallery is wel ‘n baie mooi gebou, kon nou nie regtig dieselfde sê van die kuns aan die binnekant nie.

Auckland Domain is ‘n groot park naby die middestad en lekker om in te stap behalwe vir die verkeergeraas. Ek het baie van die kweekhuise daar gehou, waar hulle meestal eksotiese plante kweek.

Die Wintertuin in Auckland Domain met een van die glashuise ook sigbaar

Auckland is eintlik amper op twee aparte eilande met net ‘n klein stukkie grond wat die noorde met die suide verbind. Op die noordekant is die ‘Boererepubliek van Bruin se Baai’ waar baie SA’ners bly. Ek moet sê, dele daarvan lyk nogal soos Pta-Oos. Maar dis blykbaar die gevolg van ‘n skandaal waarin die stadsraad die grond teen ‘n appel en ‘n ei aan ‘n Sri Lankaanse ontwikkelaar verkoop het en toegelaat het dat hy met die grond maak wat hy wil. Waar daar mense is…

Motueka > Wellington > Auckland

Do. 15 Feb. 2012

Vertrek vroeg uit Redwood Cottage om weer die veerboot na Wellington te kry. Oppad suid het Wellington na ‘n heel aangename plek gelyk, so ons het besluit om een nag daar oor te slaap en die stad bietjie te verken.

Ons oorslaapplek is by ‘n ou tannie wat naby die stadsentrum ‘n selfsorg gastehuis net vir vrouens het. Ons kamer wys na die straat, waar die busse, skateboarders en mense oor die algemeen hulleself moet uitdruk. Het nie baie goed geslaap daardie aand nie. Ons enigste huismaat het ons nooit gesien nie, net haar heerlike kos geruik. Was baie bly oor die bad, die goed is maar skaars in hierdie land waar water so volop is.

Ons het ‘hamburgers’ in die stad gaan eet – ons eerste uiteet in NS. Ongeveer R60 per burger, maar daar was gluten-vrye en vegan opsies, so dit was ‘n redding. Heelwat goedkoper as R100 vir kerrie.

Volgende dag maak ons gou ‘n draai by Wellington se botaniese tuin. Baie mooi, maar baie steil! Sien op ‘n stadium ‘n bordjie wat sê:

If you see some young people wandering around in this area with gardening tools – don’t worry! It’s just the Kelburn Girl Guides who are growing vegetables nearby for Wellington City Mission’s soup kitchen.

Hoe wonderlik moet dit nie wees as dit jou grootste bekommernis is nie.

Het hierdie silindriese boom daar gesien.

Boomsilinder in Wellington Botaniese Tuin

Op die ou end was Wellington toe nie so wonderlik as wat ons gehoop het nie, maar ons het darem ‘n beter idee van die stad gekry en watter dele op die oog af beter sou wees om in te bly, sou ek daar werk kry.

Het die volgende dag terug Auckland to gery via Nelson, wat ‘n ‘stad’ aan die ooskus van die Noordeiland is. In die 1930′s het ‘n aardbewing die dorp platgevee en dis meestal in die Art Deco-styl herbou. Ons tref toe die begin van hulle jaarlikse Art Deco-fees, waartydens mense in outydse karre ry met outydse klere aan.

Outydse kar voor 'n straatkaffee en Nelson

Kom toe eers omtrent 9-uur die aand in Auckland aan. Hierdie stad tref jou soos ‘n hamer teen die voorkop as jy vir twee weke in die ‘boendoes’ was.

Dit was ons reis. K is positief oor NS, ek sit nog op die draad.

Rolbal in NS 2

Ek het toe in elk geval ‘n klomp goed vergeet, so hier is my verdere indrukke.

Die etiketreëls is nogal anders as by ons en oor die algemeen is daar minder van hulle (tensy dit is oor ek nog net sosiale wedstryde gespeel het):

  • die leads bepaal wie eerste speel met ‘n munstuk of ‘n rolbal
  • mense sit nie balle vir mekaar gereed wanneer die ander een die wit bal neersit nie
  • die balle word nie noodwendig netjies bymekaar gesit nie, en nie noodwendig links agter die mat nie, dit kan ook regs agter wees
  • mufti beteken selfs t-hemde
  • mense sit sommer tussen hulle beurte op die bank of loop solank na die ander kant toe wanneer hulle klaar gespeel het
  • daar is geen ingang tot die baan nie, jy kan maar enige plek afstap

Ek het aanvanklik met ‘n grootte 1 gespeel, maar toe oorgeskakel na ‘n grootte 3. Dit was ‘n goeie besluit; ek speel nou heelwat beter.

Die bane is so vinnig dat ek gras moet vat by die nommer van die baan langsaan met die Taylor Lazers waarmee ek speel. En dis op die nou hand. My bal beland gereeld in die sloot en ek sukkel nog heelwat met die wit bal, wat ek gewoonlik in die sloot in gooi. Die wind het ‘n groot invloed op die balle, seker oor die baan so vinnig is. Ek speel maar op die nou hand as ek kan, anders kan my kop nie om die idee kom van nog meer gras vat nie. Maar ek dink ek begin nou ‘n gevoel vir die bane kry, want die 1m sirkel is darem nou binne bereik.

Hulle handtekens is anders as ons s’n. Hulle waai so met hulle hande oor balle wat teen hulle span is en ek is nou nog nie seker hoe hulle hulle eie balle aandui nie. Op daardie punt dink ek ons is hulle een voor. Gelukkig was my skipvandag  ‘n eks-SAner (ek het tweede gespeel uit drie), so ek kon in my gemaksone bly.

Een van die ouer Sjinese (sy’s al 50 jaar in NS) by die klub vertel nou die dag dat sy dink die Sjinese was in NS voordat die Maori’s hier gekom het. Een volk, een grondeis.

Abel Tasmanpark

Ma. 13 Feb. 2012

Vertrek vroeg na Kaiteriteri (Knopkierie in my Afrikaanse Atlas van Nieu-Seelandse Plekname) vir my seilrit en Marahau vir K se kajakrit.  Ons ontmoet dan weer in die park en stap 12 km terug na Marahau, waar die kar is. Die NS-ers dink die amptelike staptyd van 3.5 ure is heeltemal te lank en dat dit nie meer as 3 ure behoort te vat nie.  Ons het op die ou end 3.75 ure gestap, en dit net omdat ons amper nooit gerus het nie en so vinnig as moontlik gestap het. Ons weet nou beter wat is die onderskeid tussen ‘walking’ en ‘tramping’ (hulle term vir ‘hiking’) en sit ekstra tyd by al die tye wat op bordjies aangegee word.

Ek het op ‘n catamaran gery met ‘n verveelde gids wat lyk of dit sy laaste kans vir ‘n behoorlike werk is.  Songebleik en uitgedroog. Ek kon nie mooi hoor wat hy sê nie, so ek het al die toeriste-inligting gemis. Het wel ‘n vriendelike paar Britte wat in Amerika bly op die boot ontmoet en oor politiek en ekonomie gesels. Hulle dink NS is baie duur, arme goed met hulle swak geldeenheid.

Instaanfoto vir K - ek kon haar nie afneem in die kayak nie

Die seewater daar rond is baie mooi blou – K se gids het die rede daarvoor verduidelik, maar Google sal vir julle moet sê hoe dit werk as julle belang stel. Dit het iets te doen met die samestelling van die rotse.

In NS is daar oral sonbesies wat skree (selfs in die stede), al is dit nie baie warm nie. Ek was onder die indruk dat dit baie moeilik is om sonbesies raak te sien, maar hier sien jy hulle gedurig. Hierdie een se maatjie is kort tevore deur ‘n seemeeu opgepik. Dis nie so duidelik op die foto nie, maar hulle is so ‘n groenblou kleur.

Sonbesie op die strand

Was lekker voetseer na die lang stap en het heelwat mense oppad teëgekom. As NS se toerisme sou vou, sal hulle (ons?) harde bene kou.

Vertrek die volgende dag terug na Picton om weer met die ferry oor die Cook Strait terug na die Noordeiland te vaar.

Kaiteriteri-strand soggens

Kaikoura > Motueka

Sa. 11 Feb. 2012

Vertrek in die reën na die ‘Goue Kus’ van NS. So genoem omdat die sand daar geel is eerder as bruin of ‘swart’. Teen die tyd dat ons Nelson tref, is dit sonnig en warm. K moes haar sproeibottel gebruik.

‘n Bietjie moeg vir al die nuwe ervarings wat met reis gepaard gaan, besluit ons om iets normaal te doen – rolbal kyk. Ons vind ‘n klub in Nelson en gaan kyk bietjie hoe die mense speel. Nie lank nie, of ons word genooi om saam te speel. Het lekker gesukkel op daai vinnige bane, maar was bly dat die mense so vriendelik was.

Redwood Cottage met nig N se karretjie in die voorgrond

Toe oppad na Redwood Cottage wat op ‘n organiese appelplaas naby Motueka is. Hierdie streek is vol vrugteplase met ‘honesty boxes’ – hout huisies waarin die plaasprodukte gelos word, los net jou geld in die boksie. Redwood Cottage is ‘n oulike huisie met ‘n goeie gevoel, uitstekende waarde vir geld vir die van julle wat binnekort in die omgewing sal wees. Ek het gevoel of ek ‘n sug van verligting slaak toe ek dit betree. Op die foto regs agter is die ‘sleep out’ – nog ‘n huisie met net ‘n dubbelbed in. Maak vir die eerste keer kennis met ‘greenies’ in NS. In die huisie is ‘n tydskrif wat die geskiedenis van organiese boere se stryd teen landboubesigheid in NS vertel. Het lekker fiets gery op die plaas en eerstehands kennis gemaak met ‘rock snot’ (Didyma), ‘n uitheemse alg wat die riviere in NS besmet. Baie gross. As julle dink die Afrikaners is reguit met hulle name…

Volgende dag ry ons Takaka hill uit, wat die ergste kronkelpad is wat ek nog teëgekom het; dit hou net nie op nie. En dis nie ‘n heuwel nie, dis ‘n behoorlike berg. Ons was op soek na ‘n mooi strand en het een gekry – Ligar.

Panorama van Ligar-strand met 'n versteende dinosouris

K het my gelukkig oortuig om te swem, al was dit nogal koud. Die klein dorpie by hierdie strand verkoop glutenvrye pizzas!

Later gaan stap ons by die Poupou-fonteine wat blybaar van die helderste water in die wêreld het – dis so suiwer soos Arktiese smeltwater. Daar vind ons ook uit van die verskillende stadias van bosse in NS, want in die gebied is goud gemyn en die inheemse bos is daarvoor en vir landbou uitgeroei of afgebrand. Die eerste stadium is meestal Manuka- en Kanuka-bome, by ons bekend as ‘tea tree’. Daarna neem die groter bome oor waarvan ek nie die name kan onthou nie. Lekker dag en ons sluit dit af met heerlike aarbeie uit ‘n honesty box; ons het daarvoor betaal.

In NS is alles van hout - tot Stonehenge!

Rolbal in NS

Ek onderbreek die blogs oor die reis om te vertel van die rolbal, anders vergeet ek dalk die besonderhede.

Het vandag vir die eerste keer plaatjiespel (‘tabs in’) hier gespeel, by Pakuranga rolbalklub. Hulle noem dit ‘rolling up’. Het met die klub se Taylor Lazers gespeel (grootte 1) en nogal gesukkel. Twee ander mense het met Professionals gespeel. Miskien moes ek maar daai blou balletjies met die springbokke op gebring het.

Mens speel 8 koppe en dan speel verloorders teen verloorders, wenners teen wenners, ens. Geen teebreuk nie; daar’s niemand om broodjies te maak nie.

Die algemene standaard van die spel was nie baie hoog nie. Ek het geweldig gesukkel met gewig tot so teen die tiende kop, toe ek begin regkom het. Selfs toe was ek selde nader as 50cm aan die wit bal.

My nek het rooi verbrand, ek het vergeet om sonroom daar aan te sit. Wys jou hoe lanklaas ek gespeel het.

Die mense was baie vriendelik en verwelkomend, maar niemand het na die tyd gebly om drankies te drink nie. Die kroeg was darem oop (dis ‘n sosiale klub ook), so ek kon vir die eerste keer cider proe. Dit het vir my bietjies te veel na bier gesmaak, maar dit was drinkbaar. Nie ‘n patch op Hunter’s Dry nie. Was darem nie te duur nie;  die koeldrank ens. by die rolbalklubs is oor die algemeen goedkoop.

Die mense hier het ook probleme met lidmaatskapgetalle en klubs wat toemaak. Hulle begin darem van ‘n heelwat hoër basis af. Al die ander mense wat vandag gespeel het, was afgetree.

Auckland se enkelspelkampioen is by hierdie klub – ‘n eks-Suid-Afrikaner. Wat kan ek sê?